- Christia Muis
Pelgrims:
Volroete: Marinda, Freda, Alet, Dina en Christia
Opsie 1: Alta, Jeanette, Gerda, Gerda, Coleen, Retha en Irene
Opsie 2: Hanli, Adri, Wilma, Bets, Marilla en Riana
Donderdag 21ste begin met ń swaar hart oor ons 4 pelgrims moet groet maar ook blydskap vir ons nuwe “vars geselskap” pelgrims wat oppad is. Freda stap solank met die susters en ek en Marinda wag vir die nuwe groep. Die bussie wat vir Hanli, Adri, Wilma, Bets, Marilla en Riana bring, vat vir Alta, Jeanette, Gerda en Coleen terug na Paul Roux. Na Hanli hul ‘n draai gaan loop het en paar groep fotos geneem het pak ons vandag se 21km aan met ‘n nuwe uitkyk na ‘n nuwe paar dae met ‘n nuwe groep. Fotos word geneem en so stap ons af met die plaaspad en regs na die silos en geboue. Na ń hele ent vang ons vir Alet op waar sy vir ons gewag het. Die nuwe groep maak tee en my enkel raak seer so ek en Marinda en Alet stap solank aan. Nou stap ons deur cherryboom wingerde en draai af by Emden gasteplaas waar ń wow koeistal vir ons groet. Wat ń mooi gesig met die wit linne en wit balle wat van die dak afhang. Dit skep ń sagte skoon beeld en ons moëe lywe voel amper skuldig om met stowwerige lywe te gaan lê op die beddens. Swart hond lê by ons vir geselskap. 5 volroetes stick saam en 6 nuwes kom aangestap en ook bly oor die oulike koeistal. Dit het gehelp om ons 1ste aand saam met die “nuwes” te bond in een slaapsaal. Aandete was ń lekker pot bredie en rys en nou het ek darem ń vegetariese maatjie en ons het lekker gevulde butternut gekry. Net klaar geëet arriveer Mitzi wat ons net vir die naweek join. Haar man het haar gou gebring. Hanli, Adri, Alet en Dina ken haar van Roggeveld. Baie gelag vir Bets en haar tandepasta en Hanli se aansteeklike vrolike lag. Riana het deur almal se gelag en geskarrel geslaap. Trane oor die vermiste wortelkoek. Een een raak almal stil.
Vrydag 22ste word van ons weer bederf met koffie in die bed....dankie Dina. Mitzi het sommer dadelik ingeval by die hasiegroep, Freda en Dina. Kort op hul hakke is Wilma 4 en ons ander 5 is ook aan die gang om vandag se 22km te stap. Vandag het ek en Marinda besluit volgende keer fiets ons die Sungazer. Nou stap ons verby die boer se stoor vir wie ons moet versigtig wees. Ons laaste paar kilos is op die teerpad. Wat ń nagmerrie ondervinding. Op na Malutizicht. Mooi groot sandsteenhuis. En hier is 2 huise so die groep deel op. Ek en Bets is baie bly vir die Africanis hond geselskap. Almal kuier lekker om die lang stoep tafel terwyl Alet vir groot vermaak sorg. Moenie ń 70jarige onderskat nie. Dans en strip is aan die orde van die dag. Rustige middag. Vanaand het ons vir Adri en Mitzi wat gaan vuur maak en braai. Renee het lekker slaaie gemaak en braaibroodjies word gemaak. Vanaand se kole is effe meer suksesvol as by Holhoek. Marilla word bekend gestel aan Fry’s soya braai patties. Ek "moet" alweer ń wyntjie drink. Almal vroeg bed toe.
Saterdag 23ste en ons huis se mense word weer bederf met koffie in die bed. Ander huis se mense vroeg op al is vandag net 15km. Stukkie teerpad toe die grondpad. Vandag stap Freda en Dina saam met die skilpaaie. Ons neem aanmekaar fotos sodat hulle MOET stop en wag vir ons. Baie gelag. Wilma 4 is ver voor. Nou kry ons die steil opdraend en ons kruip in 4x4 daar op. Bo op die berg wag F&D vir ons. Eet ietsie en neem fotos. Hanli, Adri en Mitzi kom nog agter ons. Nou afdraend en FD tel spoed op. Hulle dink hulle het nou hul plig klaar voltooi om oggend saam te stap. Hulle bene wil net beweeg. Verby ń lokasie, honde en beeste na Earthrise mountain lodge. Wat ‘n lekker verrassing ook gewees. Vriendelike personeel en lekker huisies. Die kuier area, kroeg en eetsaal het ‘n lekker groot kaggel gehad en daar het meeste van ons die middag spandeer met Mitzi se musiek wat vir groot vermaak gesorg het. Daar was gedans en geoefen en gestrek op die maat van musiek. Later het van ons scrabble gespeel wat Freda en Christia gewen het. Aandete was ook ‘n 3-gang maaltyd wat baie gesellig was so almal om die etenstafel. Bets het vir ons bietjie klavier gespeel, maar vroeg vroeg is ons uit die kuier area ge“jaag”, want die personeel moet weer vroeg op vir ons ontbyt.
Sondag 24ste is almal in hul eie huisies besig om regtemaak vir vandag se 24km, so ons het amper amper in die donker begin stap. Hasies en Wilma 4 is al vooruit, ons ander kom ook agterna en na ‘n lekker rus langs die pad en foto saam die shuttle man het Mitzi se man haar kom oplaai. Dit was lekker om Mitzi vir so paar dae saam ons te gehad het. Van hier stap ons deur ‘n mooi boom laning en ‘n baie steil opdraend wag op ons. Ek, Marinda, Alet en Adri stap saam en rus vir oulaas voor ons afdraai na die Langkloof oornaghut afdraai. Voete is moeg en nou is ons deur vervalle plaasopstal en klomp beeste wat ons verskrik aankyk. Hier by Langkloof aangekom was almal al opgedeel in die 3 kamers en almal is deur die stort sodat ons kan skoon en warm kom vir die moontlike koue aand wat vir ons wag. Maar Adri steek vir ons ‘n lekker kaggel vuur aan en daar word ernstig darts gespeel. Eers het ons gesukkel om spellers te kry, maar gou gou het Wilma en Marinda vir Freda en Christia aangevat. Selfs Bets en Riana het ons gekry om darts te speel. Weer was ek en Freda in die wenspan. Freda was tafeltennis champ, scrabble champ en nou darts champ………..go Freda go……….jy is ‘n volwaardige WENNER!!!!!!!! Adri het die vleis gebraai, groot werk om vir so baie mense en so baie vleis gaar te kry, Freda het vir die pap en sous gesorg en die res van ons het net lekker saam geëet en kuier tot laat aand.
Maandag 25ste is net 17km, maar die pelgrims wil vroeg begin omdat vandag stap ons 9km op teerpad en wil graag vroeg in Rosendal arriveer sodat ons die dorpie kan verken. Ons bly soortvan almal saam vandag en pak die teerpad aan met karre wat verby flits. Die minste lekker dag, a.g.v. teerpad stap, maar het lekker vroeg by House Beautiful aangekom waar tannie Dora ons bederf het met ‘n voetwas en olie. Ons is ‘n groepie wat die dorp gaan verken, en 1ste gaan koffie by Frik se Benjamin’s wafels plek……………niemand eet wafels omdat ons al soveel geëet het die week :)
Loop na al die snuisterye winkels en kyk wat hulle aanbied om te koop. Ons was selfs in die ou Bank wat nou ‘n woonhuis is. Op die lekker sonstoep het ons snacks geëet en wyn gedrink….ja ek ook!!!
Almal ontspan voor ons moet aansit vir ‘n heerlike 3-gang ete wat tannie Dora vir ons voorgesit het.
Ons almal eet alweer te veel, maar ons kla nie want dit was heeeerlik. Almal maak gou ontbyt/padkos vir môre want ons gaan vroeg vroeg in die pad val.
Dinsdag 26ste ons laaste dag en langste dag van 27km terug na Paul Roux. Almal vroeg op en ons is weg in die donker. Dit is op en af en weer op en afdraendes. Adri kry swaar, maar ons bly by haar en ondersteun haar. Die hasies het vir Hanli bygekry wat vandag wil spoed vang. Wilma 4 is ook op spoed en ek en Marinda stap met beurte saam Adri. Die laaste ent voor Paul Roux is bietjie deurmekaar veral links of regs om die dam, maar so kry ons die pad terug na Dunlin B&B waar ons ‘n heerlike koek en tee ontvangs gekry het van Renee en Maggie. Freda, Alet en Dina gee vir my ‘n Sungazer waterbottel om my te bedank vir al my reëlings, ook vir Marinda vir haar foto nemery en wat sy vir Alet se 70ste gereël het. Renee bedank ons hele groep vir ons ondersteuning en sê ons was sover die lekkerste groep op die Sungazer. Met ‘n hartseer gemoedere groet die pelgrims mekaar. Ons vyf Volroete pelgrims vat die pad Fochville en Pretoria toe, die ander “ons vars geselskap” pelgrims slaap nog by Dunlin vanaand.
En so het nog ‘n wonderlike ervaring met goeie vriendskap ge-eindig…….tot ‘n volgende keer.
Stapgroete,
Christia Muis
Comments